Dekades met Drupbesproeiing: Presisie en Uiesaadproduksie
Ek boer al byna 36 jaar met uiesaad, en het 28 jaar gelede my eerste Netafim druppers ingesit. “Ek het die destydse Ram druppers gebruik, toe UniRam™ en nou ook die skuif gemaak na Streamline™ X dunwanddruplyne,” sê Derick Human van Snyberg naby De Rust in die Klein Karoo.
Human vertel dat hulle vir lank baie suksesvol met die drukgekompenseerde dikwanddruplyne uiesaad besproei het. “Ons het aanvanklik 3.5 ℓ/h druppers gebruik, en later aangepas na laer vloeitempo’s soos besproeiingspraktyke en ander omstandighede verander het. Dit was beslis die beste opsie vir die boerdery- en markomstandighede en met goeie bestuur en onderhoud kon ons verseker dat die druplyne lank diens lewer in ons uiesaadlande.”
“Daar was uitdagings, soos skade wat tydens die uitrol en oprol van die druplyne opgedoen is, dele wat gelas moes word, en ander probleme wat tot oneffektiewe besproeiing kon lei. Die uitdagings kon wel oorkom word met goeie boerderypraktyke.” Hy verduidelik egter dat dunwandoplossings as gevolg van verskeie redes die beter opsie geraak het. “Een rede is dat dit beter balans bied tussen insetkoste en impak in die veld. Ons werk ook met toenemend swak watergehalte, wat die risiko vir verstopping verhoog. Daarom maak ʼn skuif na seisoenale drup ook meer sin.”
ʼn Waardevolle Kopskuif
Human het ongeveer twee jaar terug die stap geneem om die meerderheid van die uiesaad met Streamline™ X dunwanddruplyn met 1 ℓ/h druppers wat 0.3 meter gespasieer is, te besproei. “Netafim het my besoek en die voordele en waarde van die produk baie duidelik uiteengesit. Ek het besluit om die potensiële voordele ’n kans te gee, en is vir seker nie spyt nie. Dit is werklik ’n goeie produk vir uiesaadproduksie.” Volgens Human bly die grootste voordeel dat jy elke seisoen met nuwe skoon druplyne kan begin. “Dit beteken dat jy seker kan wees van hoë effektiwiteit en dat elke plant presiese water en kunsmis gaan kry.”
Human erken dat hy ’n kopskuif moes maak om oor te skakel na dunwanddruplyne, maar dat die voordele dit die moeite werd maak. “Daar is baie om in ag te neem, soos die lengte van laterale, skedulering en meer. Nog ʼn voordeel is dat ons nou minder druplynlassies gebruik. My vrou grap dat sy voorheen elke keer as sy dorp toe moes gaan, lassies moes koop en dat sy beslis die verskil kon agterkom.”
ʼn Groot faktor in die uiesaadbedryf se skuif na dunwanddruplyne was dat nouer drupperspasiëring die voorkeur geword het vir optimale besproeiing. Human verduidelik dat nouer spasiëring sonder twyfel beter resultate lewer. “Ek vind dat die plante beter vestig en dat ek water en kunsmis in die algemeen meer effektief kan toedien. "Voorheen moes ons wyer spasiërings toepas om ’n balans tussen insetkoste en inkomste te handhaaf. Nader spasiërings was met langtermyn druplyne nie ekonomies haalbaar nie. Die feit dat ek egter nou dunwanddruplyne met ’n goedkoper drupper wat net een jaar hoef te werk kan gebruik, maak nouer spasiërings ekonomies en ek kan nou meer optimaal besproei.”
Volgens Human bly watergehalte ’n groot uitdaging. “Veral in droogtejare word die gehalte baie swak en moes ons in die verlede al tot 35% oorbesproei net om soute uit die grond te loog. Ons is deur agt jaar se droogte, en is nou dankbaar vir ’n paar jaar met baie beter reënval. Ek is wel nuuskierig hoe die Streamline™ X druplyne gaan presteer wanneer soute en ander watergehalteprobleme weer erger word. Ek glo egter die druplyne gaan die mas opkom, veral met goeie filtrering en bestuur.”
Onthou die Filter
Human het ook twee Netafim AlphaDisc™ filters in aksie op sy plaas. “Ek gesels met baie boere wat negatief is oor drupbesproeiing, maar dan het hulle nie voldoende filtrering nie. Dit is so belangrik om te verstaan dat jou filtrering reg moet wees wanneer jy met presisie wil boer. Filtrering is een van die belangrikste komponente van besproeiing, want anders verstop druppers en bereik die water nie jou plante doeltreffend nie. Ek glo in goeie filtrering sodat ek optimale opbrengs kan kry op die geld wat ek in druplyne en pompkoste belê. Ons het in die vorige seisoen 160 000 meter Streamline™ X gebruik, intussentyd was dit slegs nodig om minder as 300 meter se druplyn te vervang as gevolg van verstopping of skade. Dit is ’n weglaatbare persentasie en is te danke aan goeie filtrering, gehalte druplyne en ook goeie bestuur.”
Drupbesproeiing is ongetwyfeld die beste besproeiingsmetode vir uiesaad, sê Human. “Die plante se voete wil nat wees, maar sy kop droog. Net ’n drupper kan seker maak dat die plant optimale water en kunsmis kry, terwyl ’n droë omgewing steeds gehandhaaf word sodat die bye kan werk, siektes vermy kan word en plantskade voorkom kan word. Ons moet sekermaak ons verstaan die besproeiingstegnologie sodat ons kan aanhou om dit vir ons boerderye te laat werk.”
Hy brei uit dat die sukses van drupbesproeiing nie net van gehalte produkte afhang nie, maar ook van bestuur. “As jy drupbesproeiing nie reg bestuur nie, gaan dit nie werk nie. Hiervoor is dit belangrik dat jy jou grondtipe verstaan. Ek het sand, klei en baie ander grondtipes en gebruik op al die grondtipes dieselfde druplyne.”
FT Human en Byron la Trobe, Netafim Tegniese Adviseur, gesels oor die AlphaDisc™ filter.
Noodsaaklike Presisie
Oor die toenemende rol van presisie op die plaas, sê FT Human, die volgende generasie op Snyberg, dat jy werklik nie meer volhoubaar sonder presisie kan boer nie. “Ons weet almal dat marges in boerdery al hoe nouer word en dat ons nie in Suid-Afrika subsidies het om op terug te val nie. Elke inset en elke bestuurstaak moet dus met 100% presisie aangepak word sodat ons met so min as moontlik insette so veel as moontlik kan produseer. Jy kan nie meer ’n persentasie van jou water en kunsmis, byvoorbeeld, weggee as gevolg van oneffektiewe besproeiing en kunsmislewering nie.”
Dié vlak van presisie verg vanselfsprekend belegging in tegnologie. “Daar is baie oplossings vir boerdery beskikbaar wat ons kan help om toenemend presies te boer. Ek is ’n voorstaander van die benutting van die oplossings, maar herinner myself altyd dat werklike presisie ook balans vereis. Daar is altyd ʼn risiko dat jy kan oorbelê. Ons moet ook in ons besluite oor watter oplossings om te implementeer presies wees.”
Derick en FT Human.
Maer Jare en Vet Jare
Human sê dat uiesaad boerdery jou op jou tone hou. “Jy gaan ʼn jaar kry wat die bye nie werk nie, of wat jy nie water kan gee nie, of wat jy net 50% opbrengs kry, of geen oes het nie. Dit is deel van boerdery. Daar is so baie faktore wat ’n rol kan speel en so baie wat ons nie kan beheer nie. Dit is juis hoekom jy dit wat jy wel kan beheer, met presisie moet aanpak. As jou besproeiing, byvoorbeeld, ’n konstante is, kan jy ander faktore beter hanteer. Vanaand as ek by die huis kom moet ek weet ek het alles moontlik in my beheer gedoen om optimale resultate te kry.”
Share your thoughts
Comments
We'd love to hear your thoughts! To enter a comment, type your name and email address.