Banner Ondergrondse drupbesproeiing verminder risiko

Ondergrondse drupbesproeiing verminder risiko

“Ek is nie ’n produsent nie, ek is ’n risikobestuurder. My werk is om maniere te vind om risiko in my boerdery te verminder. Ondergrondse drupbesproeiing is een so ’n manier.” Danie Minnaar staan aan die stuur van ’n gemengde boerdery op die plaas Springboklaagte in die Kroonstad-distrik. In 2017 het hy saam met die span van Netafim Suid-Afrika begin werk om vas te stel watter impak die gebruik van ondergrondse drupbesproeiing op mielieproduksie in sy boerdery kan hê.

Die langtermyn- gemiddelde reënval op Springboklaagte is 550 mm per jaar. In sommige jare is dit so min as 300 mm en in ander so veel as 800 mm. Die uitdaging is natuurlik om in die droë jare steeds ’n oes af te haal en sodoende die volhoubare winsgewendheid van die boerdery te verseker.

Plant elke jaar

In die verlede het Danie in gevalle van gebrekkige grondwaterinhoud in die ondergrond die betrokke land laat oorlê. “Dit is egter ’n duur oplossing en ons sukkel ook met winderosie op oorlêlande. Deur addisionele water toe te dien, herstel die grondwaterinhoud vinniger en kan ons sonder uitsondering elke jaar plant.”
Dié water moet so effektief as moontlik toegedien word om die maksimum opbrengs met die minimum watergebruik te verseker. Met ondergrondse drupbesproeiing kan meer hektare met minder water besproei word en is sy rendement heelwat hoër. “Die grootste verskil tussen ondergrondse drupbesproeiing en ander besproeiingstelsels is dat daar geen verdamping en ander waterverliese is nie. As ons argumentsonthalwe 100 mm water toedien, is daar 100 mm plantbeskikbare water,” verduidelik hy.

Oestyd

Danie het sopas die tweede oes afgehaal op lande waar ondergrondse drupbesproeiing gebruik is om die grondwaterinhoud aan te vul. “In jaar een het ons net water toegedien en glad nie gekarring aan die bemesting of die plantestand nie. Daardie jaar was ’n buitengewoon goeie reënvaljaar en daar was nie ’n groot verskil tussen die oes op die proefland en die kontroleland nie. Toe ons egter na die oes die grondwaterinhoud meet, kon ons ’n wesenlike verskil waarneem met ’n aansienlik hoër waterinhoud in die besproeiingsland se grond.”

In jaar twee het die span besluit om seker te maak die beskikbare water word benut en in hoër opbrengste omgesit. “Ons het die plantestand aangepas en ook op bepaalde tye meer bemesting deur die drupstelsel toegedien. Ek is baie opgewonde oor die resultate wat behaal is,” sê Danie.


Die resultate van die 2019-oes lyk so:
Kontrole (Droëland/22 000 plantestand)
7.57 ton/ha
Drupbesproeiing/25 000 plantestand
8.87 ton/ha - 17% hoër
Drupbesproeiing/35 000 plantestand
9.68 ton/ha - 28% hoër


Danie beklemtoon dat dié verskil in ’n jaar met lae reënval selfs groter sal wees. Dit is juis die rede waarom hy ondergrondse drupbesproeiing gebruik – om selfs in swak jare goeie oeste te verseker.

“Die kontrole het ook goed gedoen, te danke aan goeie reën en die ryp wat weggebly het. Ek is nuuskierig om te sien hoe groot die verskil in ’n droër en moeiliker jaar sal wees.”

Meer mielies

Volgens Danie kan die gebruik van ondergrondse drupbesproeiing ’n omvangryke verskil in mielieopbrengste in Suid-Afrika maak. Elke produsent moet bepaal of dit in sy boerdery kan werk en of die belegging vir hom die moeite werd sal wees. “As jy goeie grond en ’n beperkte, maar versekerde waterbron het, glo ek ondergrondse drupbesproeiing kan ’n besonder goeie oplossing wees.”

Hy raai produsente aan om baie seker te wees van die waterbron voordat die belegging gemaak word. “Doen jou huiswerk wat watergehalte betref en maak seker dat die water tot jou beskikking van gepaste gehalte vir die besproeiingstelsel is.” Danie beplan nou om ondergrondse drupbesproeiing op nog dele van sy plaas te installeer. “Na twee jaar met die stelsel is ek oortuig dat dit die moeite werd is. Dit is maklik om te bestuur en ek het volle vertroue in die konsep. Die grootste voordeel vir my bly dat ek risiko kan verminder deur water binne my beheer terug in die grond te sit.”

Ondergrondse drupbesproeiing sorg dat Danie, die risikobestuurder, nou groter oessekerheid asook meer volhoubare winsgewendheid het en dat daar aansienlik minder risiko in sy boerdery bestaan.