Banner Meet en bereken vir goeie besproeiingskedulering

Meet en bereken vir goeie besproeiingskedulering

Selfs die beste besproeiingstelsel beteken niks sonder korrekte besproeiingskedulering nie.

Robbie Childs, landboubesproeiingkundige, herinner dat dit noodsaaklik is om te weet wanneer om te besproei, hoeveel water om neer te sit en wanneer om nie te besproei nie. “As ons nie hierdie belangrike kennis het nie, is die gevaar dat ons oorbesproei, water en kunsmis mors en die plant onder druk plaas, of dat ons onderbesproei en sodoende die produksiepotensiaal van die plant belemmer. ”

Childs deel ʼn belangrike vergelyking wat die doelwit van skedulering vasvat:

Transpirasiec / Potensiële transpirasiec = 1

Dit beteken dat plante hulle volle transpirasiepotensiaal moet gebruik. As die plant onder druk is, sal die antwoord kleiner as een wees, aangesien werklike transpirasie minder as potensiële transpirasie is.

Gereedskap en proses

Om die bogenoemde kennis in te samel, moet ʼn proses gevolg word waarin verskeie belangrike metings, toetse en berekeninge gedoen word. “Die uiteindelike doel is om ʼn skeduleringsplan te ontwikkel wat gebruikersvriendelik is, volhoubare produksie verseker en eenvormige resultate lewer.

Hiervoor is belangrike gereedskapstukke nodig: profielgate, grondwatermoniteringstoerusting, ʼn skeduleringsprogram, weerstasies en, die belangrikste, kennis. “Moenie kortpaaie vat en enige van die belangrike gereedskapstukke of stappe uitlaat nie. As elke deel van die legkaart nie reg inmekaar gepas word nie, word daar nie optimaal besproei en uiteindelik geproduseer nie.”

Profielgate

Die waarde van profielgate moet nooit onderskat word nie. Wanneer ʼn profielgat gegrawe word, moet daar aandag gegee word aan die grondtipe en -tekstuur, tekens van oormatige nat grond, die diepte en wydte van die aktiewe wortelsone asook grondlae wat wortelontwikkeling en waterverspreiding kan belemmer. “Ons moet belangrike vrae beantwoord: Hoeveel klei, sand en slik bevat die grond? Het ons dreinering nodig? Hoe groot is die wortelsone wat ons moet benat? Kan ons belemmerende grondlae meganies verbeter?”

Bogenoemde vat die aanvanklike doel van die profiel gat vas. Na die aanvang van besproeiing, het die gat ʼn verdere belangrike doel, naamlik ʼn platform vir die kalibreer van grondwatermoniteringstoestelle en self ook ʼn metode vir grondwatermonitering. “Ons kyk na die grondwater-inhoud deur die grond te hanteer en dit natheid daarvan op ʼn rangorde te beoordeel. Die ‘lesing’ word gebruik om enige toestelle te kalibreer en ook die data daarvan te interpreteer.”

Childs herinner dat dit vir besproeiingskedulering baie belangrik is dat die aktiewe wortels, of wortelsone, onderskei word van die dieper, minder aktiewe wortels, of die buffersone. “Dit is om die oorbesproeiing van die buffersone te voorkom aangesien wateropname in daardie sone teen ʼn laer tempo geskied. As ons die sones van mekaar onderskei kan ons korter onderhoudsbesproeiing-periodes en langer korrektiewe besproeiingsperiodes slegs wanneer die buffersone dit benodig.”

In die foto kan die aktiewe wortelsone duidelik gesien word. Indien ons gereeld buite dié benat, sal ons water, kunsmis en energie (aandryf van die pomp) mors.

Grondwaterverspreiding

Een van die baie belangrike toetse wat gedoen moet word, is die eenvoudige grondwaterverspreidingstoets wat die breedte tot diepte benattingsverhouding van die grond bepaal. “Ons weet deur ander data hoe diep ons moet besproei, deur die toets weet ons ook nou hoe wyd die water sal versprei. As ons dié kennis het, en ons weet wat die grond se waterhouvermoë is, weet ons wat die grootte van die grondreservoir is.

Grondwatermonitering

Verskeie toestelle is beskikbaar vir die monitering van grondwater. Childs verduidelik dat die grootste onderskeid tussen toestelle die fisiese neem van enkelmetings teenoor deurlopende meting is. “Alhoewel albei die nodige werk sal kan doen, stel ek altyd deurlopende meting voor aangesien dit baie gapings in die beskikbare data vul, wat die fyn afronding van skeduleringsregime moontlik maak.”

Meting is noodsaaklik vir doeltreffende besproeiing. “Ons het almal die teoretiese kennis en kan dit toepas, verskeie faktore word egter nie in teorie in ag geneem nie. Dit is faktore soos reënval en hoeveel reënwater die aktiewe wortelsone bereik het, stresfaktore wat wateropname kan onderdruk, watter diepte die besproeiingswater bereik en meer. Al die faktore wat die verdampingstranspirasie van die plant beïnvloed moet in ag geneem en gemeet word”

Soos genoem, maak meting die korrekte deurlopende aanpassing en fyn afronding van jou skeduleringsregime moontlik. Volgens Childs is daar verskeie faktore wat plante onder stres plaas, wat ook nie deur ʼn teoretiese benadering opgetel sal word nie. “Dit sluit onder meer in, die effek van die soutinhoud van water, wortelprobleme as gevolg van Phytophthora en nematodes, grond wat te nat of te droog is, grondverdigting en wanbalanse in grondelemente.” Al die faktore sal die plant se vermoë om water op te neem beïnvloed, wat met skedulering in ag geneem móét word.

Vir die eenvoudige grondwaterverspreidingstoets word ʼn vyf tot tien liter emmer op ʼn platform 40cm van die grond af geplaas. Konnekteer ʼn drupper met ʼn soortgelyke vloeitempo as wat in die stelsel gebruik gaan word aan ʼn dun pyp. Konnekteer dié pyp se ander punt onderaan die emmer en laat dit na die grond lei. Laat die emmer leegloop, waarna jy ʼn profielgat kan oopmaak en die waterverspreiding kan ondersoek.

Skeduleringsprogram

Dit word duidelik dat nommerpas besproeiingskedulering gegrond is op data vanuit verskillende oorde. Al dié data beteken egter niks as dit nie verwerk word nie. “Ons kan besproeiingskedulering sonder ʼn skeduleringsprogram doen, solank die nodige somme steeds gemaak word. As dit nie gedoen word nie, bly skedulering maar net raaiwerk, ten spyte van al die data wat ingesamel is.”

Ons moet bereken hoeveel water die grondreservoir kan hou, hoeveel water per uur oor die totale area gelewer word, wat die werklike waterbehoefte van die plante is per dag en meer. “Dit is bloot makliker om ʼn goeie skeduleringsprogram hiervoor te gebruik.”

Daar is verskeie programme op die mark en die keuse van program sal afhang van elke stelsel se spesifieke behoeftes. Childs herinner egter dat dit noodsaaklik is dat die program dit moontlik maak om gewastipe, aard van die besproeiingstelsel, gronddata en weerdata in te voer.

So ʼn program stel ʼn skeduleringsriglyn voor, wat steeds fyn afgerond moet word. “Tydens die afronding moet daar na faktore gekyk word soos die akkuraatheid van verdampingstranspirasie (ETo) data, die gewas-koeffisiënt (Kc), die waterhouvermoë van die grond, die potensiaal van die gewas wat geplant is en die ouderdom van die plante.

ʼn Lang lys faktore is bepalend tydens skeduleringsberekeninge:

  • Plantspasiëring
  • Ry- spasiëring
  • Gewastipe (Bepalend tot die gewas-koeffisiënt wat gebruik word)
  • Drupper/Spuit spasiëring
  • Vloei/Lewerings tempo van druppers of spuite.
  • Reënval (Berekening van effektiewe reënval/indringing van reënwater in die aktiewe wortelsone)
  • Voortdurend opgedateerde verdampingstranspirasie-waarde
  • Grondvogvlakke
  • Grondtipe
  • Ouderdom van plante
  • Grootte van die aktiewe wortelsone

Weerstasies

Weerstasies en weerdata is ʼn baie belangrike hulpbron vir besproeiingskedulering. “Die produsent kan ʼn weerstasie aankoop of inteken op ʼn betroubare weerdata-program. Wat ons van die stasie of program nodig het, is regstreekse ETo-data (verdampingstranspirasie). Dit is belangrike dat ons ʼn beraamde of werklike ETo-data op ʼn daaglikse basis of as ʼn weeklikse gemiddelde nodig. Dié syfer kombineer al die weerdata wat ʼn invloed het op die plant se vermoë om water op te neem beïnvloed.

Reaktiewe skedulering

Childs verduidelik dat ʼn skeduleringsriglyn deurlopend aangepas moet word in reaksie op veranderende omstandighede en data. “Kom ons sê ons het, met die beskikbare kennis in ag genome, besluit om drie ure per dag vir ses dae van die week te besproei. Teen die einde van die week gaan ons die metingstoerusting-lesings na en kry profielgat data gekry. Ons kry ook die jongste of voorspelde weerdata. As die velddata dalk aandui dat die grond te nat is, en afhangende wat die verwagte besproeiingsvereistes vir die volgende tydperk is, kan ons besluit om die aktiewe besproeiingsure te verminder. Ons kan ook besluit om dit meer te maak as data aandui dat die grond uitgedroog het,” skep hy ʼn scenario van die proses wat deurlopend moet plaasvind.

Volgens Childs is daar twee benaderings tot besproeiingskedulering, vaste ure of hoeveelhede in ʼn varierende siklus, of ʼn vaste siklus met varierende ure. “Die benadering word natuurlik bepaal deur die besproeiingsmetode wat gebruik word. Vir stelsel wat ʼn klein area benat, soos drupbesproeiing, is ʼn vaste siklus met varierende ure die gewenste benadering. ʼn Metode wat ʼn groter area benat, sal ʼn varierende siklus vereis.”

Hoe dit ook al sy, ons kan nie die skedulering van besproeiing aan raaiwerk oor laat nie. Slegs somme sal sukses bring.