Banner Begrawe kommer oor besproeiing

Begrawe kommer oor besproeiing

“Ons gebruik sedert 2018 ondergrondse drupbesproeiing op ʼn persentasie van ons suikeraanplantings en sien baie goeie resultate tot dusver.” Nick Botha, hoof van landboubedrywighede by Greenfuel in Zimbabwe, verduidelik hoekom hy ondergrondse drupbesproeiing verkies.

“Met die gebruik van ondergrondse drupbesproeiing het ons geen verliese as gevolg van afloopwater nie. Verdampingsverliese van die grondoppervlak word ook byna uitgeskakel. ʼn Baie belangrike voordeel met betrekking tot beide kostebesparing en omgewingsvriendelikheid is die beperking van kunsmisloging te danke aan dieper waterindringing.”

Nick getuig van beter onkruidbeheer, verminderde skade deur insekte en knaagdiere, buigsame ontwerp en skedulering asook langer lewensduur as bogrondse stelsels. “Daagliks maak die stelsel ons werk makliker deurdat ons steeds verskeie aksies in die veld kan uitvoer tydens aktiewe besproeiing omdat die drupperlyne ondergronds geïnstalleer is. Die arbeidsvereistes is ook laer vergeleke met bogrondse stelsels.”

Toeganklike besproeiing

Ondergrondse drupbesproeiing, of soos dit kortliks in die bedryf na verwys word, SDI (Subsurface Drip Irrigation) is ʼn gevestigde praktyk op gewasse soos suikerriet, pekanneute en lusern in Suid-Afrika. Wêreldwyd word uitstekende resultate ook behaal op mielies, sojabone en sonneblomme.

Michael Esmeraldo, landboukundige en streeksverkoopsbestuurder by Netafim Suid-Afrika, sê dat boere ondergrondse drupbesproeiing moet oorweeg as hulle so doeltreffend moontlik met water en kunsmis wil werk.

Een van die belangrikste voordele van drupbesproeiing, en in die geval ondergrondse drupbesproeiing, is dat dit besproeiing meer toeganklik maak. Esmeraldo verduidelik dat ondergrondse drupbesproeiing ingespan kan word in landerye of boorde van enige vorm en met enige topografie. “Dit is die perfekte oplossings vir terreine waar ander vorme van besproeiing, soos spilpunte of spuite, nie moontlik is nie.”

Die direkte toegang van die drupper tot die wortelsone maak ondergrondse drupbesproeiing selfs meer doeltreffend as bogrondse drupbesproeiing. “Doeltreffende watergebruik is toenemend belangrik in moderne boerdery. Met ondergrondse drupbesproeiing kan beskikbare water meer doeltreffende aangewend word om sodoende produksie vol te hou met beperkte water, hoër produksie op dieselfde hektare te verseker of om meer hektare te besproei met dieselfde hoeveelheid beskikbare water.”

Die regte strategie

Volgens Botha het hulle ʼn duidelike verbetering in gewaseenvormigheid opgemerk vandat ondergrondse drupbesproeiing ingespan is. Dit kan natuurlik toegeskryf word aan die meer eenvormige toediening van water en nutriënte. “Plantgesondheid, plantpopulasie en groeikragtigheid het ook baie verbeter.”

Verskeie besproeiingstrategieë word saam met ondergrondse drup aangewend, afhangende van die gewas, klimaatstoestande, grondtipe en ander faktore. Dit wissel van aanvullende besproeiing om die grondwaterinhoud in die ondergrond te herstel tot daaglikse intensiewe besproeiing. Die strategie sal ook bepalend wees tot die toediening van kunsmis. Esmeraldo verduidelik dat een van die groot voordele is dat nutriënte deur middel van die besproeiingstelsel toegedien kan word. “Dit beteken ons kan kunsmis in kleiner hoeveelhede en meer gereeld toedien. Dit is baie voordelig dat dit nie vir die boer nodig is om alle kunsmis gelyk toe te dien aan die begin van die seisoen nie. Dit laat die boer ook toe om kunsmistoediening deur die loop van die seisoen aan te pas.”

Belangrike oorwegings

Vir boere wat ondergrondse drupbesproeiing oorweeg, sê Botha dat dit werklik ʼn koste-effektiewe alternatief tot permanente besproeiing met spuite of dan spilpuntbesproeiing kan wees. “Die aanvanklike koste is wel hoog vergeleke met ander stelsels, maar die besparings en latere laer koste tel weer in die guns van ondergrondse drupbesproeiing. In totaal bereken ons dat ons 50% in algemene beleggingskoste gespaar het.”

Alhoewel ondergrondse drupbesproeiing se kraggebruik baie laer is as die van ander stelsels, moet die beskikbaarheid van krag ingedagte gehou word. “Kragonderbrekings het by ons al tot opbrengsverliese gelei. Dit is sinvol om na sonkrag of ander alternatiewe kragbronne as rugsteun te kyk.”

Botha plaas verder klem op onderhoud- en moniteringsvereistes. “Dit is belangrik om toerusting, die werking daarvan en watergehalte deurlopend dop te hou. Pro-aktiewe onderhoud is ʼn vereiste, veral omdat dit moeilik is om probleme ondergronds op te spoor en te herstel. Filtrering moet baie versigtig gekies word en ʼn streng onderhoudsprogram moet gevolg word.”

Indien ʼn boer ondergrondse drupbesproeiing oorweeg, is sekere inligting nodig om ingeligte besluite te neem. “Die grondfisiese en chemiese eienskappe is baie belangrik vir besluitneming en sal noodsaaklik wees om te bepaal of ondergrondse drupbesproeiing suksesvol toegepas kan word. Weerstasie-data en ander inligting oor die klimaatstoestande is ook belangrik om waterbehoefte te bepaal,” sê Esmeraldo. Dit is ook belangrik om die insette van saadmaatskappye of kwekerye te hê, om sodoende te verseker dat kultivars geplant word wat geskik is vir besproeiing en potensiaal het vir die hoë opbrengs wat met drupbesproeiing gepaardgaan.

Esmeraldo waarsku dat afskeepwerk tydens die grondvoorbereiding, installasie en skedulering sal lei tot ʼn mislukte projek of teleurstellende resultate. “Die sukses van die projek word grotendeels deur goeie grondvoorbereiding en sorgvuldige installasie bepaal. Dit is ook belangrik dat ons meer aandag skenk aan skedulering as wat ander besproeiingsmetodes dalk vereis. Fyn en korrekte skedulering sal die beloofde besparing van water, energie en kunsmis verseker.”

Greenfuel behaal die afgelope seisoene die volgende statistieke met ondergrondse drupbesproeiing.