Banner Bestuur risiko met effektiewe besproeiing

Bestuur risiko met effektiewe besproeiing

Graanprodusente word elke seisoen met ’n verskeidenheid risiko’s gekonfronteer – hetsy dit klimaatverwante risiko’s is of veroorsaak word deur ’n kosteknyptang wat die bedryf laat noustrop trek.

Op ’n vraag oor hoekom hy ondergrondse drupbesproeiing inspan, antwoord Danie Minnaar van die plaas Springboklaagte in die Kroonstad-distrik so: “Ek is nie ’n boer nie, ek is ’n risikobestuurder. My werk is om maniere te vind om risiko in my boerdery te verminder. Ondergrondse drupbesproeiing is een so ’n manier.”

Drupbesproeiing is ’n bewese praktyk in verskeie Suid-Afrikaanse landboubedrywe, maar is ’n relatief nuwe oorweging vir gebruik in ons graanbedryf. Netafim Suid-Afrika is betrokke by verskeie proewe waar ondergrondse of bogrondse drupbesproeiing op mielies, sojabone, weidingsgewasse en ander geïnstalleer is. Tot dusver is die resultate baie positief en Netafim sal vergelykbare syfers met die bedryf deel sodra dit beskikbaar is. As deel van ’n globale maatskappy het ons ook die voordeel van kennis wat strek uit die suksesvolle gebruik van drupbesproeiing op dié gewasse in ander lande.

Doeltreffend en akkuraat

“Ons glo dat drupbesproeiing ’n omvangryke verskil in die plaaslike graanbedryf kan maak. Elke produsent moet bepaal of dit in sy boerdery kan werk en of die belegging vir hom die moeite werd sal wees,” sê Michael Esmeraldo, landboukundige en streeksverkoopsbestuurder by Netafim Suid-Afrika. “Indien jy so doeltreffend as moontlik met water en kunsmis wil werk, moet jy jouself afvra of drupbesproeiing dalk vir jou boerdery kan werk.”

Die akkuraatheid waarmee drupbesproeiing water en kunsmis toedien, bring nie net koste- en hulpbronbesparings mee nie, maar ook konstante en potensieel hoër opbrengste. “Ons moet besef dat die gesprek in die graanbedryf nie net oor hoër opbrengste gaan nie. Boerderye moet finansieel volhoubaar wees en daarom is dit die winsmarge wat vergroot moet word. Dit is juis hier waar die waarde van drupbesproeiing in die graanbedryf lê.”

Deur middel van besparing op water- en kunsmiskoste, onderhoudskoste, arbeidskoste asook elektrisiteit-, diesel- en ander insetkoste maak jy die kosteknyptang wyer oop. So kan groter wins selfs vanuit dieselfde opbrengs ingewin word. As produsent het jy nie beheer oor klimaat- en prysverwante risiko’s nie. Deur insetkoste te verlaag, kan jy wel die impak van hierdie bedreigings beperk.

Omdat baie graanboerderye so afhanklik is van klimaatstoestande, is fluktuasie in opbrengste een van die groot risiko’s in die bedryf. Deur drupbesproeiing in te span, kan jy opbrengste stabiliseer en sodoende een van die baie onsekerhede uit jou boerdery haal.

Voordele van drupbesproeiing

Een van die belangrikste voordele van drupbesproeiing is dat dit besproeiing meer toeganklik maak. Michael verduidelik dat drupbesproeiing ingespan kan word in landerye van enige vorm en met enige topografie. “Dit is die perfekte oplossing vir terreine waar ander vorme van besproeiing, soos spilpunte of spuite, nie moontlik is nie.”

Water en kunsmis word deur middel van drupbesproeiing direk op die wortelsone van die plant toegedien. Hierdeur word vermorsing van beide hulpbronne grootliks beperk en verhoog doeltreffendheid drasties. “Doeltreffende watergebruik is toenemend belangrik in moderne boerdery. Met drupbesproeiing kan beskikbare water meer doeltreffend aangewend word om sodoende produksie vol te hou met beperkte water, hoër produksie op dieselfde hektare te verseker of om meer hektare te besproei met dieselfde hoeveelheid beskikbare water.”

Verskeie besproeiingstrategieë word saam met drupbesproeiing aangewend, afhangende van die gewas, klimaatstoestande, grondtipe en ander faktore. Dit wissel van aanvullende besproeiing om die grondwaterinhoud in die ondergrond te herstel tot daaglikse intensiewe besproeiing. Die strategie sal ook bepalend wees tot die toediening van kunsmis. Michael verduidelik dat een van die groot voordele is dat nutriënte deur middel van die besproeiingstelsel toegedien kan word. “Dit beteken ons kan kunsmis in kleiner hoeveelhede en meer gereeld toedien. Dit is voordelig dat dit nie vir die produsent nodig is om alle kunsmis gelyk toe te dien aan die begin van die seisoen nie. Dit laat die produsent ook toe om kunsmistoediening deur die loop van die seisoen aan te pas.”

Is dit vir my?

’n Verskeidenheid faktore moet oorweeg word om te bepaal of drupbesproeiing in jou boerdery gaan werk. Daar moet ook besluite geneem word rakende lewering, spasiëring, skedulering en meer.

Hou die volgende faktore in gedagte:

  • Besproeiings- en produksiedoelwitte.
  • Beskikbaarheid van water – gehalte en hoeveelheid.
  • Grondtipe en -diepte.
  • Betroubaarheid en beskikbaarheid van krag.
  • Bewerkingspraktyke – met ondergrondse drup en die ontwikkeling van tegnologie in implemente is drupbesproeiing en bewerking versoenbaar.
  • Gewas en kultivar – hoë-opbrengsbesproeiingskultivars.
  • Topografie – dit sal bepalend wees of drukkompenserende druppers gebruik moet word.

Drupbesproeiing kan ’n baie positiewe bydrae tot jou boerdery maak. Danie som dit so op: “As jy goeie grond en ’n beperkte, maar versekerde waterbron het, glo ek drupbesproeiing kan ʼn baie goeie oplossing wees.”