Bookmark : https://www.netafim.co.za/knowledge-centre/articles-and-reading/basiese-beginsels-van-besproeiingskedulering/?id=48&entryId=17
Skip to : [Content] [Navigation]

Knowledge Centre


Back

Basiese beginsels van besproeiingskedulering

31 Oct 2012

Die beskikbaarheid van water is die enkele beperkende faktor wat landbouproduksie beperk.  Huidiglik is landbou die grootste gebruiker van water - 63 % van die beskikbare oppervlakwater (2000).  Suid Afrika het geen surplus water nie met die gevolg dat water baie beter en slimmer in die toekoms gebruik moet word.  ‘n Paar aksies om water beter te gebruik, sluit in:  die gebruik van meer effektiewe besproeiingstelsels soos bv. drupbesproeiing, onderhoud van besproeiingstelsels, rekordhouding en beter skedulering. 

Een van die maniere om water meer effektief te gebruik, is om beter te skeduleer.  Dit sluit in beter tegnieke, beter bestuur en beter rekordhouding.  Skedulering moet geskied op die basis van in agneming van grondtipe, gewas, grondwaterstatus en weerstoestande. 

Vir beter skedulering, moet die volgende vrae beantwoord word:

  1. Wat wil ek bereik?  Is die doel maksimum produksie, maksimum kwaliteit of vir watter wyndoelwit produseer ek? Na gelang van wyndoelwit word die besproeiingstrategie bepaal.
  2. Wat is my wingerd se werklike watergebruik en hoe verskil dit gedurende die seisoen?  Dit is belangrik om te weet die watergebruik verander gedurende die groeiseisoen as gevolg van klimaatstoestande en die grootte van die lower wat verander.  Aanvanklik is die waterverbruik baie laag en soos wat die klimaat warmer word en die lower groter, verhoog die waterverbruik.  Normaalweg bereik watergebruik ‘n piek in Desember/Januarie/Februarie en neem dan weer stelselmatig af soos wat die klimaat verander.
  3. Wat kan my stelsel hanteer?  As besproeier moet mens weet waartoe die besproeiingstelsel in staat is en hoeveel water dit in ‘n uur kan neersit.  Die toedieningstempo van die stelsel kan maklik bereken word deur die aantal druppers per hektaar te bereken en dit te vermenigvuldig met die lewering van die druppers of anders deur die volgende formule: lewering van druppers (ℓ/h) ÷ [spasiëring tussen druppers (m) x spasiëring tussen druplyne (m)]
  4. Ander faktore wat skedulering kan beïnvloed:  Waterbron, waterkwaliteit, beskikbaarheid van water, ens.
  1. Hoe lyk my wortelstelsel?  As skeduleerder moet die produsent weet hoe diep die effektiewe wortelstelsel (daar waar 80 % van die wortels voorkom) is.  Die volgende moet in ag geneem word:  laterale- sowel as die diepteverspreiding; hoeveelheid en verspreiding van fynwortels; en laastens kwaliteit van die wortels.  Die orige 20 % van die wortels wat dieper voorkom, word as die buffersone gesien.
  2. Hoe lyk my grond?  Dit is belangrik om die waterhouvermoë, sowel as die klippersentasie, van die grond te weet.  Dit tesame met die diepte en laterale verspreiding van wortels bepaal hoe groot die reservoir is.  Dit is belangrik om die grootte van besproeiing altyd dieselfde te hou, aangesien die wortelstelsel daarby aangepas is.  Soos wat die wingerd gedurende die seisoen teen verskillende tempos die water onttrek, is dit krities om eerder die frekwensie van besproeiing (die “wanneer”) te verander as om die grootte (die “hoeveel”) te verander.  Skedulering kan die wortelverspreiding deur die profiel drasties beïnvloed.  Deur die “buffersone” of ondergrond relatief droog te bestuur word goeie deurlugting in die hand gewerk wat die “aktiewe wortelsone” toelaat om dieper te ontwikkel.  Indien suksesvol kan die “hoeveel” of tydsduur van die besproeiing aangepas word.
  3. Hoeveel water wil ek onttrek voor ek weer wil besproei?  Dit hang af van wat die wyndoelwit is.  Normaalweg vir hoër kwaliteit wyne en rooiwyne, word die gronde toegelaat om droër te word voordat daar weer besproei word.  Vir witwyne en massadraende wingerd, word die grond minder toegelaat om uit te droog.  Dit is belangrik om die grond (veral goeie, vrugbare gronde en/of gronde met ‘n fyn tekstuur) nie te nat of te na aan veldkapasiteit te bestuur nie aangesien die suurstofinhoud onder die toestande baie laag raak en wortelverspreiding negatief beïnvloed word.  Dit is belangrik om genoegsame nat-droog siklusse te handhaaf om optimale verspreiding van water en suurstof te verseker

Monitering voltooi die siklus van effektiewe skedulering.  Dit is belangrik om moniteringstoerusting reg te gebruik en te interpreteer.  Die metingstoerusting is slegs daar vir monitering – dit dien nie as besluitnemingstoerusting nie en die produsent self moet die besluit rakende wanneer en hoeveel water toegedien moet word, neem.


Staff login